top of page

Agtergrond

Milanie foto hoe res_edited.jpg
image.png

Bloot 23 jaar oud, jonk en onervare, maar met die onverskrokke waagmoed van die jeug in haar agtersak, het Milanie Vosloo in 1985 die groot stap gewaag om haar eie onderneming te begin. Sy het die R200 in haar bankrekening gebruik om Uppe Marketing, ’n reklamemaatskappy, se deure te open, maar het bloot ’n hout- kabelrol as lessenaar gebruik en haar intrek in ’n doodgewone motorhuis geneem wat sy gebruik het as haar kantoor.

Wanneer ’n mens met dié besonderse vrou met die mooi blou oë gesels, is dit maklik om eers te vergeet van al die toekennings en eerbewyse. Sy laat jou tuis voel en gesels rustig en gemaklik oor die dinge wat vir haar rêrig belangrik is, soms wêrelde verwyder van die sakewereld. Sy oortuig jou gou dat haar pad nie altyd maklik was nie, maar dat dit haar juis geanker het: “Dit was ’n pad wat ek nooit sou kon loop sonder om op my knieë te bly en die Vader se wysheid in te drink nie.”​

Milanie se onwrikbare geloof speel ’n groot rol in hierde aspek van haar lewe en een van haar passies in die lewe is om ’n daadwerklike verskil in mense se lewens te maak.

“Een van die maniere waarop ek dit graag wou doen, is om my woorde en gedagtes op papier met mense te deel. Ek was 40 jaar oud toe ek vir die eerste keer my hand aan ’n geestelike dagboek vir vroue gewaag het. Dit was egter nie sonder die nodige ervaring nie. Omdat ek so jonk was toe ek my besigheid begin het, moes ek soveel van die lewe, en veral die besigheidswêreld leer. In my boeke het ek begin om hierdie dinge met die lesers te deel en vanuit my eie menslikheid ander te inspireer,” sê Milanie.

Daar het reeds 19 geestelik-inspirerende boeke uit Milanie se pen verskyn en elkeen van hierdie boeke was uiters suksesvol. Met haar skryfwerk kon Milanie die lewens en harte van duisende vroue aanraak. Milanie is ook die skrywer van die gewilde rubriek, ‘Siel van ’n Vrou’ vir die tydskrif, Lééf en ‘Wees stil en weet’ in die tydskrif, LIG.

Die skryf van dagstukke vir vroue lê haar na aan die hart en sy het hierdie genre gekies omdat vroue en mense elke dag ’n stukkie inspirasie nodig het. “Dagstukke is ’n genre wat mense op ’n kort en kragtige manier kan toerus vir die dag, dit bied die geleentheid om ’n baie groot omvang van menslike ervarings as onderwerpe te hanteer en op so ’n manier wysheid, raad en ondersteuning te gee.” Vir Milanie lê die beloning van skryf daarin dat mense daardeur geïnspireer word, moed, krag, troos, vreugde en vrede daardeur vind. “As ander mense deur my gebroke woorde iets vind om hulle te inspireer, en as ander iets van God se liefde raak lees, raak hoor, raak leef en met groter vrede en vreugde kan leef, sal dit altyd vir my ’n hoogtepunt wees.”

Volgens Milanie word sy geïnspireer deur ander skrywers soos Henry Nouwen, Richard Rohr, John Eldredge en Brian McLaren. Haar grootste inspirasie is egter die Woord en God se stem wat in en met haar werk. “My grootste taak in die lewe is om iets van God in hierdie wêreld uit te leef en om iets van sy liefde en genade aan die wêreld te gee.”

Milanie se rol as motiveringspreker speel ook ’n belangrike rol in die uitleef van haar geloof. Sy is ’n gewilde keuse as spreker by vrouegeleenthede waar sy vroue bemoedig, ondersteun en inspireer met haar praatjies oor gewoon vrouwees, ma-wees, vriendin-wees en kind-van-God-wees. Vrouwees en die rolle wat vroue in hul naastes se lewens vervul, is vir haar baie belangrik. “Vroue is tegelykertyd die stuurwiele en die ankers van die mense om hulle. Hulle stuur hul mense in die rigting wat vir hulle die beste kan wees wanneer hulle saam met hul Vader die regte visie en insig kan uitdeel, maar hulle is ook die ankers wat vastigheid en stabiliteit kan gee wanneer stormwinde loei, ander troos soek en wanneer die lewe ander oorboord wil gooi.”

Wanneer ’n mens met jarelange kollegas gesels, kom die manier waarop Milanie op ’n ferm maar opregte manier gesag afdwing, nie net by kollegas en kliënte nie, duidelik na vore. Daar is deernis en begrip vir haar medemens, maar sy het ook ’n simpatieke oor om te luister en raad te gee. Terselfdertyd is Milanie ’n mentor van vele wat haar pad gekruis het. Sy neem haar rol as leier en die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan, ernstig op, maar sy kan net so lekker laf wees wanneer die geleentheid hom voordoen.

 

​ “My raad aan vroue is, maak – ongeag wat die lewe en die wêreld van jou verwag – tyd vir jouself. Tyd om stil te word by God. ’n Mens kan net gee wanneer jy self vervuld voel en vrede het,” is haar raad in hierdie verband. Een van die dinge waarvan sy besonder baie hou, en wat beslis tyd vir haarself insluit, is om elke dag te begin met ’n heerlike fietsrysessie. Dis tyd in die natuur, tyd om vrylik asem te haal, maar ook tyd vir jouself, sê sy hieroor. Vir haar is dit onmoontlik “om ’n dag sonder ’n oefensessie te begin. Dis soos om te probeer oorleef sonder daardie eerste koppie koffie!”

Weg uit haar besigheidsomgewing, is Milanie Vosloo ook ’n eggenoot, ma en ouma wat baie vir haar hartsmense omgee. Dis hulle wat eintlik haar menswees laat draai. Die kleingoed lê haar besonder na aan die hart. Die verhouding met Johan, haar man, was nog altyd ’n belangrike prioriteit. Die twee woon op ’n plasie en van haar stoep het hulle ʼn lieflike uitsig oor die vallei. Wanneer hulle saans daar sit, met die tarentale wat in die verte roep, en hul oë wat rus op die wingerde en appelboorde, lê die vrede haar baie na aan die hart. Dit is duidelik dat Milanie, net soos haar gunsteling-Bybelfiguur Petrus, ’n rots vir die mense in haar lewe is.

 

Geskryf deur Alita Steenkamp

bottom of page